Polisie wag op Oscar
2013-02-25 07:11
Johannesburg – Die Paralimpiese ster Oscar Pistorius sal Maandag na verwagting by die Brooklyn-polisiestasie aanmeld as deel van sy streng borgtogvoorwaardes.
Pistorius, wat daarvan beskuldig word dat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op 14 Februarie by sy huis in Pretoria vermoor het, was dié naweek vry ná landdros Desmond Nair hom Vrydag borgtog van R1 miljoen toegestaan het.
Deel van sy borgtogvoorwaardes sluit in dat hy elke Maandag en Vrydag op spesifieke tye by die Brooklyn-polisiestasie sal aanmeld. Hy mag ook geen oortreding begaan wat op geweld teen vroue neerkom nie.
Hy mag ook nie na die Silver Woods-landgoed, waar die skietery plaasgevind het, terugkeer nie. Verder word hy nie toegelaat om alkohol te drink nie, en hy moet sy paspoort inhandig.
Pistorius sal na verwagting op 4 Junie weer in die hof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA