Polisie vind glo Kotzé-moordlys
2012-01-15 07:00
Johannesburg – In hul landwye soektog na Johan Kotzé het die polisie meer as een keer op die verkeerde persoon toegesak.
Dít terwyl Kotzé, wat die “Modimolle-monster” gedoop is, langer as ’n week lank net 4 km van die plaaslike polisiekantoor in die bos weggekruip het.
Te midde hiervan was daar vrese dat nog mense slagoffers kon word nadat die polisie glo ’n moordlys met name in Kotzé se huis gekry het.
Kotzé was meer as ’n week lank soek nadat hy glo sy gewese vrou, Ina Bonnette, wreed gemartel en haar seun doodgeskiet het.
Rapport verneem die polisie het ’n paar dae lank iemand in die Vrystaat dopgehou en eers hul fout besef toe hulle die man wou arresteer. Die fout was omdat hulle die sein van ’n 071-selfoonnommer gevolg het, terwyl Kotzé ’n 074-nommer het.
Brig. Hangwani Mulaudzi, Limpopo-polisiewoordvoerder, sê hulle was onder enorme druk om Kotzé te vas te trek.
“Foute gebeur in enige ondersoek en hierdie ouens het 24 uur per dag gewerk om al die verdagtes te arresteer.
“Ons het baie oproepe van oor die hele Suid-Afrika ontvang dat Kotzé hier of daar gesien is. In een geval het polisielede ’n wit Toyota Fortuner met Vrystaatse nommerplate gesien. Daardie lede het dit opgevolg, maar dit was nie hy nie,” sê Mulaudzi.
Lt.kol. Malesela Mogale, Modimolle-polisiebevelvoerder, het Rapport na die toneel geneem waar Kotzé geskuil het.
Hy sê hulle “het nooit gedink om so naby aan die dorp te soek nie” en dat ’n polisielid elke dag naby die plek verbygery het.
Kotzé is Woensdag omstreeks 11:45 by sy vriend Dirk van der Merwe se huis in Schoemanstraat in Modimolle gearresteer nadat hy die vorige aand omstreeks 20:00 by ’n plaaslike winkel opgemerk is.
Ali Akbar (29), die winkeleienaar, sê hy het hom nie herken nie en dat Kotzé boeliebief, water en koeldrank gekoop het.
’n Vrou wat buite die winkel was, het hom herken en haar man en broer ontbied. Hulle het ook die polisie gebel.
Kotzé het onraad vermoed en met sy Toyota Fortuner weggejaag, met die vrou se man en broer kort op sy hakke.
Hy het na sy wegkruipplek gegaan, waar hy in ’n bos vasgejaag en te voet verder gevlug het.
Intussen is die hele dorp gemobiliseer, maar dit is onbekend waar Kotzé was terwyl die polisie die omgewing met onder meer ’n helikopter gefynkam het.
Hy is die volgende dag reg aan die ander kant van die dorp by sy vriend se huis vasgetrek. Van der Merwe, ’n tandtegnikus, sê hy het “sy gat afgeskrik” toe hy by die laboratorium langs sy huis omdraai en daar staan Kotzé.
Van der Merwe het bevestig dat Kotzé by hom ’n paar leë bladsye uit ’n notaboek gevat het kort voordat Kotzé sy vervreemde vrou, Ina Bonnette (42), verlede Dinsdag in ’n lokval gelei het.
“Ek het daai dag vir hom gesê om vir haar ’n mooi verhaal te skryf,” sê Van der Merwe.
Rapport verneem die polisie het twee bladsye by die toneel gevind waarin Kotzé glo die motief vir sy beweerde grudade verduidelik het. Hierin was ook die name van Bonnette se dogter en haar ouers, wat Kotzé glo ook wou vermoor.
Mulaudzi wou geen kommentaar oor die inhoud van die bladsye lewer nie.
***
Kotzé (50) wou moontlik sy vervreemde vrou ook vermoor en die werkers, wat hy glo gedwing het om haar te verkrag, die skuld gee.
Rapport verneem die drie mans het vooraf geweet wat Kotzé vir me. Ina Bonnette beplan het en dat hy reeds vir homself ’n alibi gereël het.
’n Bron na aan die ondersoek sê egter die bewerings dat die mans Bonnette onder dwang moes verkrag, is onakkuraat, want hulle het baie tyd gehad om polisie toe te gaan.
Kotzé het verlede Dinsdag omstreeks 15:00 buite sy huurhuis met Bonnette gepraat en haar gevra om na van haar besittings in die huis te kom kyk. Volgens Die Pos het die drie mans haar ingewag. Toe sy instap, het hulle haar oorrompel, ’n sak oor haar kop getrek, op die bed vasgemaak en haar mond toegeplak.
Hulle het haar aangerand en verkrag, waarna hulle weg is en Kotzé haar gemartel het. Hy het glo ook haar seun, Conrad Bonnette (19), doodgeskiet.
“Ek is deur twee en ’n half uur van onbeskryflike pyn, maar niks sal ooit kan vergelyk met die pyn toe ek my kind se angskrete gehoor het nie,” het Bonnette aan Die Pos gesê.
Brig. Hangwani Mulaudzi, polisiewoordvoerder, sê die vraag is waarom die mans nie weggehardloop het toe hulle alleen in die huis was nie.
Volgens Kotzé se vriend Dirk van der Merwe en sy seun Dirk jr. (27) sou ’n groep vriende die volgende dag (Woensdag) by die Warmbaddam gaan kuier het, maar Kotzé het daarop aangedring dat hulle ’n dag vroeër gaan. Kotzé sou dié besoek glo as sy alibi gebruik het.
“Ek het Kotzé se dogter in Pretoria opgelaai en ons het in Modimolle aangekom net nadat my ma op Ina en Conrad afgekom het. Sy sou saam met haar pa en ons langs die dam gekuier het,” sê Van der Merwe jr.
Hulle het haar eers nie vertel wat gebeur het nie en sy het ’n uur later op Facebook gelees wat haar pa gedoen het. “Sy’t gedink ons lieg, maar toe sy dit op Facebook sien, het sy in trane uitgebars,” sê hy.
Kotzé en een van die mans het eergister in die Modimolle-landdroshof op 17 aanklagte van onder meer moord, verkragting en menseroof verskyn. Hul saak is tot 10 Februarie uitgestel.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Rapport