Polisie vind R25 000 se dagga
2010-04-22 12:34
Johannesburg – Vier mense is in hegtenis geneem tydens ‘n dwelmklopjag in Delft, het die polisie in die Wes-Kaap Donderdag gesê.
Volgens kapt. Joe Wilson, polisiewoordvoerder, het die polisie ‘n verdagte in Kunenestraat deursoek en ‘n pakkie dagga in sy besit gevind.
Verdere ondersoek het die polisie na twee persele geneem in dieselfde straat, waar die dagga gestoor en verkoop is.
“Met hulle aankoms op die toneel het die polisie sowat 153 pakkies dagga op die eetkamertafel gevind wat altesame sowat 20kg geweeg het,” het Wilson gesê.
Later deur die dag het die polisie inligting opgevolg wat deur die publiek verskaf is en sowat 12kg se dagga in ‘n hut in die Freedom Farm-informele nedersetting gevind.
Die polisie het drie mans en ‘n 18-jarige vrou tydens die klopjagte vasgetrek.
“Sowat R25 000 se dagga is altesaam gevind. Die verdagtes staar verskeie aanklagte in die gesig en sal binnekort in Bellville in die landdroshof verskyn,” het Wilson gesê.
- Sapa