Polisie verloor R16 milj se wapens
2010-01-28 10:16
Lizel Steenkamp
Kaapstad - Polisiebeamptes het in net nege maande sowat R16 miljoen se wapens verloor of as gesteel aangemeld.
Die kostes verbonde aan die verlies van 2 944 vuurwapens sedert Januarie tot einde September verlede jaar blyk duidelik uit ’n tender wat Krygkor toegeken het om 4 000 splinternuwe Beretta-pistole vir die polisie te bekom.
Luidens Krygkor se webblad is die tender ter waarde van R15,8 miljoen op 10 Desember aan Republic Arms, ’n wapenhandelaar in Johannesburg, toegeken. Die pistole kos R3 953 elk.
Jeffrey Smale, direkteur van Republic Arms, het gister bevestig die wapens moet teen 15 Maart, voor die einde van die boekjaar, aan die polisie gelewer word.
Dianne Kohler Barnard, DA-LP, het gister uitgevaar oor dié verbysterende bedrag wat die polisie moet bestee om verlore of gesteelde vuurwapens te vervang.
“Teen dié koste sou ’n mens hoop dat die polisie se bestuurskorps meer sou doen om die verliese te verhoed, maar hulle doen klaarblyklik nie veel nie.”
Volgens haar kan die miljoene rande aan ander kritieke hulpbronne bestee word en moet beamptes aanspreeklikheid aanvaar vir wapenverliese.
Die polisie se topbestuur het verlede jaar tydens ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit gesê dat beamptes sedert 1 Januarie tot 30 September 2 944 vuurwapens verloor het of dat dit gesteel is.
Dít volg op nog 4 430 wapens wat in 2008 en 2007 op dieselfde wyse uit staatsbesit verdwyn het.
Kohler Barnard het gister aangevoer die polisie is onwetend besig om onwettige wapenhandel te stook.
“Wie sal weet waarheen dié wapens is en waarvoor dit gebruik word?”
Sy gaan in ’n brief aan komm. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, aandring dat behoorlike vuurwapenbeheer toegepas word.
- Die Burger