Polisie-verkragter in uitkenningsparade
2010-02-09 13:43
Johannesburg – Polisie-amptenare in Knysna gaan Dinsdag aan ‘n uitkenningsparade moet deelneem nadat ‘n vrou Saterdag glo deur ‘n polisieman verkrag is, het ‘n woordvoerder gesê.
Volgens Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder in die Suid-Kaap , is die 32-jarige vrou glo deur twee polisiemanne wat aan diens was in ‘n polisievoertuig in Knysna se hoofstraat verkrag.
“Sy was in ‘n restaurant met vriende toe hulle ‘n argument gehad het. Sy het besluit om by die hoofstraat op te loop en het ‘n geparkeerde polisievoertuig gevind,” het Pojie gesê.
“Sy het hulle vir hulp gevra. Die bestuurder het haar in die voertuig ingetrek en die passasier het haar verkrag.”
Die saak is deur George se familiegeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredingseenheid ondersoek.
“Hulle is ‘n gespesialiseerde eenheid en is onafhanklik van die Knysna-polisie,” het Pojie gesê.
Die saak is ook aangemeld by die Onafhanklike Klagtedirektoraat.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie, maar lede is ingeroep vir ondervraging.
“Indien verdagtes na die uitkenningsparade geïdentifiseer word, sal hulle in hegtenis geneem word,” het Pojie gesê.
- Sapa