Polisie vang rowers
2009-10-23 21:26
Johannesburg – Drie mans is Vrydag in Wynberg in hegtenis geneem nadat hulle glo sowat R15 000 kontant by ‘n skrootwerf gesteel het.
Volgens insp. Moses Maphakela, polisiewoordvoerder, het drie gewapende mans omstreeks 14:00 by die Jabulani-skrootwerf in Wynberg opgedaag en die eienaar beroof.
Nadat die rowers gevlug het, het die eienaar agter hulle aangehardloop.
Lede van die Bramley-polisiestasie wat op patrollie was het gesien wat gebeur en die rowers agterna gesit.
Hulle kon daarin slaag om die mans vas te trek. Die verdagtes staar nou klagtes van gewapende roof in die gesig en sal Woensdag in die landdroshof verskyn.
–Sapa