Polisie swyg oor Tyibilika-gerugte
2011-11-15 08:03
Kaapstad – Die polisie wou nie Maandag reageer op gerugte dat die voormalige Springbok-flank Solly Tyibilika Sondagoggend doodgeskiet is in ’n aanval wat op hom gemik was nie.
’n Provinsiale polisiewoordvoerder, kapt. Frederick van Wyk, het aan Volksblad gesê die ondersoek na die skietvoorval waarin Tyibilika dood is, gaan voort.
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie.
Tyibilika (32), oorspronklik van die Oos-Kaap, is Sondag omstreeks 02:20 doodgeskiet waar hy in Guguletu saam met vriende in ’n taverne gesit het.
Volksblad het Maandag berig dat twee onbekende mans by dié taverne in Nuwe Kruispad ingestap en begin skiet het. Tyibilika is doodgeskiet en twee ander mense is gewond.
Intussen het die rugbygemeenskap geskok op die nuus van Tyibilika se dood gereageer.
Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugby-unie (Saru), het in ’n verklaring gesê dit is ontstellend om hom so skielik en op so ’n brutale manier te verloor. “Die algehele disrespek vir ’n lewe in ons gemeenskap is skokkend,” het hy gesê.
Hoskins het gesê Tyibilika se opkoms is ’n bewys van wat kan gebeur as talent en geleentheid gekombineer word in ’n posisie in die Springbokspan, wat gewoonlik baie kompeterend is.
“Ek onthou ’n baie talentvolle speler en ’n jong man van wie almal gehou het. Hy het vroeg in sy loopbaan gevorder om vinnig ’n Springbok te word.”
Verskeie Springbok-rugbyspelers het hul skok op Twitter uitgespreek. Die voormalige Springbok-slot Victor Matfield het getweet: “Hoe jammer is dit van Solly Tyibilika. Ek dink aan sy familie. Ons het so ’n goeie land as ons net van die vreeslike dade ontslae kan raak.”
Pierre Spies: “My innige simpatie gaan uit na die familie van Solly Tyibilika.”
Gurthrö Steenkamp: “My diepste simpatie aan die familie en vriende van Solly Tyibilika.”
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad