Polisie swyg oor Madonsela-arres
2011-07-06 10:15
Johannesburg – Die polisie gaan nie kommentaar lewer oor die beweerde beplande inhegtenisneming van adv. Thuli Madonsela, Openbare Beskermer, nie.
"Ons gaan nie ingesleep word by kommentaar van gesiglose mense nie," het kol. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, gesê.
The Star het berig dat die polisie beplan om Madonsela op aanklagte van bedrog en korrupsie in hegtenis te neem.
Madonsela, Openbare Beskermer, het haar glo skuldig gemaak aan bedrog en korrupsie terwyl sy werksaam was by die Suid-Afrikaanse Wethervormingskommissie (SALRC), het The Star Woensdag berig.
Volgens "onafhanklike bronne" het Madonsela se maatskappy glo werk vir die SALRC gedoen en is R1,8 miljoen betaal terwyl sy drie jaar gelede daar gewerk het.
"Ons gaan nie bewerings teen mense ontken of bevestig tensy hulle in die hof verskyn het nie," het Naidoo gesê.
Brig. Sally de Beer, nasionale polisiewoordvoerder, het bevestig dat dít die polisie se posisie is oor die verslag.
Kol. McIntosh Polela, woordvoerder van die polisie se prioriteitsmisdaadeenheid, die Valke, was nie onmiddellik beskikbaar vir kommentaar nie.
Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Woensdag gesê hy is nie bewus van die aanklagte teen Madonsela nie.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het in 'n onderhoud op SAFM gesê hy is "verras" oor die nuus.
Madonsela het kort daarna enige betrokkenheid by korrupte aktiwiteite terwyl sy by die SALRC werksaam was, ontken.
"Ons het gedink dit is 'n grap, maar dit is 'n storie wat werklik aan die koerant gegee is."
"Die bewering is dat die maatskapy wat ek besit, werk vir die departement van justisie gedoen het. Voorheen is daar niks daaroor gesê nie. Daar is aan my gesê dit is 'n navraag. Ek het sedertdien van die papierwerk opgespoor. Daar was nooit 'n bewering van bedrog of korrupsie nie," het Madonsela gesê.
Sy het gesê die tydsbereking van die bewerings is "verdag" omdat dit 'n dag voor sy die bevindings na verskeie ondersoeke aan die media sou bekendmaak.
Madonsela is besig om verslae te finaliseer oor huurkontrakte vir nuwe hoofkwartiere in Pretoria en Durban vir onderskeidelik R500 miljoen en R1,1 miljard. In haar voorlopige verslag het die OB Bheki Cele skuldig bevind aan wanadministrasie vir sy rol in die huurkontrakte.
"Die tydsberekening is verdag, maar omdat ek nie God is nie, kan ek nie bepaal of daar 'n verband is nie," het Madonsela gesê.
Op vrae of sy om haar lewe vrees, het Madonsela gesê sy is nie bang nie.
"Ons gaan almal eendag dood. Ek sal altyd my werk na die beste van my vermoë doen. Ek doen my werk onafhanklik en sonder enige guns of vrees."
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA