Polisie soek student se moordenaar
2010-10-18 17:04
Pretoria - Die polisie is op die spoor van 'n man wat 'n 22-jarige student aan die Viva Youth College doodgeskiet het.
Ao. Louis de Bruyn het gesê niemand is nog in hegtenis geneem ná die student Vrydagaand in sy kothuis by die kollege in Timsrand naby Centurion doodgeskiet is nie.
Hy het gesê die jong man, wie se naam nie genoem is nie, is geskiet toe hy uit die badkamer na die slaapkamer gegaan het.
"Hy is sonder waarskuwing geskiet en die skieter het weggehardloop."
Viva Youth College is 'n sentrum vir tieners en jong volwassenes wat met biochemiese stoornisse soos bipolêre gemoedstoornis en skisofrenie gediagnoseer is.
The Pretoria News berig dat die jong slagoffer, wie se naam weens die regulasies op geestesgesondheid weerhou word, rekenaarspeletjies saam met twee jong vriende gespeel het.
Die twee vriende het onsuksesvol gepoog om sy lewe te red.
De Bruyn het gesê die skieter het gevlug sonder om enigiets te steel.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA