Polisie slaggereed vir toernooi – Cele
2010-04-30 06:40
Maygene de Wee
Kaapstad - Nagenoeg 3 200 Engelse sokkerboewe wat deur die Britse polisie geïdentifiseer is, sal nie toegelaat word om die Wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika by te woon nie.
Nathi Mthethwa, minister van polisie, het by die bekendstelling van die polisie se veiligheids- en gereedheidsprogram met die oog op dié toernooi by die Kaapstad-stadion gesê die Suid-Afrikaanse Polisie is slaggereed vir enige gebeurlikheid.
Die polisie en ander veiligheidsagentskappe het elke besonderheid van die sokkerboewe.
“Indien van hulle wel daarin slaag om die land binne te kom, sal hulle net so vinnig uit die land gesit word,” het hy gesê.
Mthethwa het gesê geen mens of organisasie sal toegelaat word om die toernooi deur middel van protesaksie of enigiets anders te ontwrig nie.
Die demokratiese reg van enige landsburger om te staak of te protesteer, sal nie ontneem word nie, maar indien dit (protesoptredes) wel plaasvind, moet dit binne die raamwerk van die wette van die land geskied.
Volgens Mthethwa is die bedrag van R600 miljoen wat aan bykomende veiligheidsmaatreëls vir die toernooi bestee is elke sent werd.
Die land se veiligheidsplanne is aan elke veiligheidsagentskap van elke deelnemende land voorgelê. “Elke veiligheidshoof met wie ons gekommunikeer het, is beïndruk met dit wat ons voorgelê het en wat hulle gesien het,” het Mthethwa gesê.
Ggenl. Bheki Cele, die nasionale polisiehoof, het gesê die afgelope paar maande is gekenmerk deur die intensiewe opleiding van polisiebeamptes en ander veiligheidsorganisasies. Van die opleidingsprogramme is deur polisiebeamptes van Frankryk aangebied.
Hy het gesê indien hy vandag gevra sou word of Suid-Afrika gereed is vir die grootste sportgebeurtenis tot nog toe, sal hy nee antwoord.
“Indien daar gevra word of ons môre gereed sal wees, sal ek ook nee antwoord. Indien die persoon vra wat ons probleem is, sal ek antwoord dat ons al gereed was,” het Cele gesê
Hy het gesê die tyd het aangebreek dat Suid-Afrika en Suid-Afrikaners aan die res van die wêreld ons bekende gasvryheid betoon.
Inwoners hoef nie bekommerd te wees dat daar nie genoeg polisiebeamptes vir gewone polisiëring sal wees nie. “Tans is daar sowat 190 000 polisiebeamptes in die land, waarvan 44 000 aan die toernooi afgestaan word. Die res sal nog steeds vir gewone polisiewerk ontplooi word.”
- Die Burger