Polisie slaan toe op dwelmlaboratoriums in Jhb
2012-11-16 07:15
Johannesburg – Die polisie het Donderdagaand op twee dwelmlaboratoriums in Johannesburg afgekom, het 'n woordvoerder gesê.
Kapt. Paul Ramaloko het gesê 'n 36-jarige watertegnikus is in 'n klopjag in Randburg in hegtenis geneem.
"Ons het 'n totaal van 42 500 ml-houers gevind. Elk het die houers het 'n vloeistof bevat, wat gebruik word om die dwelm bekend as magic mushroom te vervaardig."
Die geraamde straatwaarde van die vloeistof is sowat R30 miljoen.
Die man sal binnekort in die Randburg-landdroshof verskyn.
Ramaloko het gesê drie buitelanders is in 'n tweede klopjag op 'n huis in Roodepoort in hegtenis geneem.
Hy het gesê 'n Nigeriese paartjie en 'n Tanzaniese man het chroomsuur, efedrien, methcathinone, beter bekend as “cat”, in hul besit gehad. Altesaam 500 l van 'n vloeistof, wat gebruik word om die dwelms te verdun, is ook in hul besit gevind.
"Die Nigeriese paartjie het 'n agtjarige dogter. Ons het haar na 'n plek van veiligheid geneem."
Die drie sal binnekort in die Roodepoort-landdroshof verskyn.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA