Polisie skiet rower in Pta
2010-04-16 23:56
Johannesburg – Die polisie het Vrydag op ‘n vermeende rower in Pretoria-Moot geskiet en hom gewond, het ‘n woordvoerder gesê.
Die man en vier van sy makkers is kort daarna in hegtenis geneem.
Volgens kapt. Colette Weilbach het stasiekommissaris van Pretoria-Moot en sy kollegas gesien hoe vyf gewapende mans ‘n 35-jarige man in sy voertuig beroof in Annie Botha-laan omstreeks 10:40.
Die polisie het die verdagtes agternagesit en hulle in Colbyn van die pad forseer.
“Een van die beamptes het ‘n 22-jarige verdagte van Tembisa in die been geskiet nadat die verdagte sy vuurwapen op die polisiebeampte gerig het,” het Weilbach gesê.
Die vyf mans, tussen die ouderdomme van 21 en 31, sal binnekort in die hof verskyn.
Twee ongelisensieerde vuurwapens en gesteelde geld is in hulle besit gevind.
- Sapa