Polisie skiet op ‘dronk studente’
2010-02-04 04:56
Durban – Die polisie het glo Woensdag rubberkoeëls op ‘n groep studente geskiet wat by die Mangosuthu Universiteit van Tegnologie (MUT) in KwaZulu-Natal betoog het.
“Die studente het die polisie met klippe bestook. Daarna het die polisie met rubberkoeëls teruggeskiet,” het supt. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, gesê.
Volgens Naicker was die studente glo onder die invloed van alkohol gewees.
“Die 15 studente wat Dinsdag in hegtenis geneem is vir publieke geweld is later weer vrygelaat en sal op 8 April in die hof verskyn,” het hy gesê.
Na bewering het hierdie studente teruggekeer na die universiteit en sowat 300 ander studente toegespreek. Dit is gedurende hierdie gesprekke dat hulle die polisie bestook het.
“Niemand is in die voorval beseer nie en die polisie het nog niemand in hegtenis geneem nie.”
– Sapa