Polisie skiet op Jub Jub-betogers
2010-03-19 13:04
Johannesburg – Polisie het Vrydag met rubberkoeëls op skoolkinders geskiet wat op ‘n stormloop gegaan het buite die Protea-landdroshof.
Hulle het glo probeer het om verbygangers te beroof en het die verkeer versper.
‘n Nyala-pantservoertuig het stadig verby die honderde kinders gery en die polisie het van binne die voertuig verskeie skote op die kinders gevuur.
Dit was genoeg om die kinders te laat spaander en hulle het langs die park oorkant die hof gaan wag.
Honderde skoolkinders het rondom 09:30 by die hof opgedaag vir die derde dag van betogings teen die hip-hop kunstenaar Molemo “Jub Jub” Maarohanye en Themba Tshabalala wat vir die moord op vier kinders teregstaan.
Aggressiewe betogers, waarvan sommiges in skoolklere geklee was, het probeer om ‘n man op ‘n fiets te beroof, maar het hom uiteindelik laat gaan.
Ander het ‘n broodwa geteiken en een van die betogers het ‘n brood gegryp nadat hulle die agterdeur oopgekry het.
Polisie amptenare van Johannesburg het later op die toneel aangekom om ander amptenare by te staan.
Binne die hof het die staat geargumenteer dat die beskuldigdes vir verskeie redes nie borgtog toegestaan moet word nie, insluitende hulle eie veiligheid sowel as die publiek se veiligheid.
- Sapa