Polisie skiet man dood in jaagtog
2011-11-13 20:04
Johannesburg – ‘n Man is deur die polisie doodgeskiet tydens ‘n jaagtog in George, het die polisie in die Wes-Kaap Sondag gesê.
Die man en vier ander was Saterdag in ‘n voertuig toe die polisie hulle genader het, het kapt. Bernadine Steyn gesê.
‘n Jaagtog het gevolg toe die motor weggejaag het.
“Die verdagtes het herhaaldelik probeer om die voertuig van die polisie van die pad af te stoot,” het Steyn gesê.
“Beamptes het na bewering ‘n voorwerp gesien wat soos ‘n vuurwapen lyk en het op die voertuig geskiet.”
Toe die voertuig tot ‘n stilstand gekom het, is vier verdagtes – tussen die ouderdomme van 23 en 30 – in hegtenis geneem.
‘n Vyfde persoon is dood gevind. Hy is in die kop geskiet.
‘n Saak van moord word ondersoek.
Die polisie het beslag gelê op sowat 14 pakkies dagga, wat uit die motor geslinger is.
Die groep sal Dinsdag in die George-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA