Polisie se repliek op Madonsela-verslag verwag
2011-07-14 23:07
Johannesburg – Die SAPD sal na verwagting binne die volgende week antwoord op ‘n verslag van die openbare beskermer wat dui op beweerde wanadministrasie in die verkryging van huurkontrakte vir kantoorruimte vir die polisie.
Die polisie het tyd nodig om die dokument, wat Donderdag vrygestel is, te bestudeer, het maj. genl. Nonkululeko Mbatha, woordvoerder van die nasionale polisiekommissaris, genl. Bheki Cele, gesê.
Die polisie het dit slegs twee ure voor joernaliste ontvang, het sy gesê.
In haar verslag het Madonsela aanbeveel dat President Jacob Zuma moet optree teen die minister van openbare werke, Gwen Mahlangu-Nkabinde, weens die versuiming om samewerking te bied in ‘n ondersoek na twee omstrede huurkontrakte van die polisie vir geboue.
Madonsela het beweerde wanadministrasie en onbehoorlike en onwettige optrede deur die departement en die polisie opgemerk wat die verkryging van die huurkontrakte betref. Die huurkontrak van 10 jaar is R1,16 miljard werd.
Die vrystelling van die dokument kom vier maande ná ‘n aanvanklike verslag oor ‘n soortgelyke huurkontrak van R500 miljoen vir kantoorruimte in Pretoria, wat deur Cele en die eiendommagnaat Roux Shabangu onderteken is. Sy het bevind die ooreenkoms tussen die twee was “fundamenteel foutief en ongeldig”.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA