Polisie red vlugtende vrou
2011-09-14 17:58
Johannesburg – Die polisie het ‘n vrou gered wat gevlug het van ‘n man wat haar probeer ontvoer het in Molofo Noord in Soweto, het die polisie in Johannesburg Woensdag gesê.
Die 22-jarige vrou het omstreeks 22:00 Dinsdag naby die Jabulani-hostel gestap toe ‘n motor langs haar stilgehou het, het ao. Kay Makhubela gesê.
Die bestuurder het die vrou gegryp, haar in die voertuig gegooi en weggery. Die polisie het die motor agternagesit nadat ‘n verbyganger hulle van die gebeure in kennis gestel het. Volgens Makhubela het die vrou uit die motor probeer klim, waarna die man noodgedwonge van die pad afgetrek het.
“’n Struweling het ontstaan en die man het probeer om die vrou terug by die motor in te trek. Hy het haar herhaaldelik met die vuiste geslaan voordat die polisie haar kon red.”
Sy is vir ligte beserings behandel by ‘n plaaslike hospitaal. Die 36-jarige man word aangekla van ontvoering, aanranding en poging tot verkragting. Hy sal na verwagting Donderdag in die Protea-landdroshof verskyn.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA