Polisie red skoolhoof van leerlinge
2011-08-31 19:53
Johannesburg – Die polisie in Mpumalanga moes ‘n skoolhoof red wat homself Woensdag in sy kantoor toegesluit het uit vrees dat betogende leerlinge hom sou aanrand.
Die polisie het hul omstreeks 10:00 na die Vukuzame Sekondêre Skool in Tweefontein C naby KwaMhlanga gehaas en honderde betogende skoolkinders op die perseel aangetref, het kapt. Eric Mathavha gesê.
Hulle wou hê die skoolhoof moet afgedank word nadat hy na bewering ‘n vroulike onderwyser ‘n week gelede geskors het.
“Die hek was gesluit en die polisie moes gate in die draadheining sny om toegang tot die perseel te kry. Hulle het toe ‘n groep leerlinge wat aan die deur van die hoof se kantoor geskop het, onder beheer gebring."
Die polisie het die leerlinge kalmeer en ‘n vergadering met hulle en die skool se beheerliggaam gehou. Klasse is vir die dag gekanselleer.
Die provinsiale onderwysdepartement was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA