Polisie-rangstelsel klink soos apartheid, kla Popcru
2010-08-01 08:57
Centurion - Gemeenskappe landwyd vereenselwig glo die polisie se nuwe militêre rangstelsel met die polisie-wreedheid van die apartheidsjare.
Polisielede wat tot die vakbond Popcru behoort, sê hulle is gevolglik nie gelukkig met die stelsel nie en dit moet geskrap word.
Polisielede het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, Dinsdag daaroor gekonfronteer en hom gevra om die saak op te neem by die regerende party se nasionale kongres in September. Mantashe het as gasspreker opgetree by Popcru se “politieke skool” in Centurion.
Mantashe het egter die polisiebeamptes op die vingers getik deur te sê hulle moet eerder ’n beter diens aan die gemeenskap lewer.
Polisielede het voorts aan Mantashe gesê die range verwar hulle.
“Ons weet nie of ons ’n polisiediens of ’n polisiemag is nie. Mense sien ons nou in dieselfde lig as die polisie in die apartheidsjare,” het een gesê.
“Ons wil nie die nuwe range hê nie. Dit is ’n stap terugwaarts. Ons versoek u hulp in dié verband.”
Mantashe het teruggekap: “Gemeenskappe gee nie om oor jul range nie. As julle egter ’n uur gaan vat om op hul klagtes te reageer, of in polisiekantore onvriendelik met hulle is, sal gemeenskappe negatief teenoor julle wees.”
Mantashe het gesê die ANC het geen planne om sy beleid oor die polisierange by sy kongres in Durban te verander nie.
Norman Mampane, Popcru se woordvoerder, het Donderdag aan Rapport bevestig dat Popcru in sy geheel die nuwe militêre range verwerp.
“Dit is nie ’n lewensvatbare manier om misdaad te beveg nie. In die ou bedeling waar dié range gebruik is, was die polisie brutaal teenoor landsburgers.
“Ons sal nie toelaat dat ons polisiebeamptes as oorlogshonde gebruik word om die eng ideologiese belange van die staat te bevorder nie.”
Die meeste van Popcru se sowat 140 000 lede is polisiebeamptes. Die nuwe militêre rangstelsel het op 1 April in werking getree.
- Rapport