Polisie patrolleer Honeydew ná taxi-skietery
2012-02-01 13:25
Johannesburg – Die polisie het Woensdagoggend die Honeydew-omgewing noordwes van Johannesburg gepatrolleer nadat ‘n taxi-eienaar in ‘n skietery dood en twee ander mense beseer is, het ‘n woordvoerder gesê.
“Alles lyk nou kalm, maar ons patrolleer steeds die gebied. Die ondersoeke duur voort,” het lt. kol. Tshisikhawe Ndou gesê.
‘n Taxi-eienaar het Dinsdag op die hoek van Hendrik Potgieter-rylaan en Peterweg in Roodepoort met ‘n kollega gesels toe skote uit ‘n wit Toyota Corolla gevuur is. Beide mans is getref.
Die eienaar se kollega en ‘n passasier in ‘n verbygaande taxi is beseer, het Ndou gesê.
Die skietery was glo deel van toenemende spanning tussen die Faraday en Dorljota-taxiverenigings oor roetes in die Honeydew-omgewing.
“Ons probeer nog vasstel wat gebeur het en aan watter taxivereniging die slagoffer behoort het,” het Ndou gesê.
‘n Taxi is glo Maandag op Hendrik Potgieter-rylaan van die pad af gedwing en die bestuurder is met ‘n sambok geslaan.
Hy is na ‘n hospitaal geneem en het ‘n aanklag van aanranding ingedien, het Ndou gesê
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA