Polisie oral om dronkes te vang
2011-12-31 08:21
Johannesburg – Die Johannesburgse metropolisie (JMPD) sal vandag en môre in groot getalle in die stad ontplooi wees om vinnig en doeltreffend af te reken met motoriste wat dronk bestuur of jaag.
Hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die JMPD, het gesê meer metropolisielede as gewoonlik sal ontplooi word om te verseker die paaie is op Ou- en Nuwejaarsdag veilig.
“Daar sal beslis ’n groot polisieteenwoordigheid wees om die situasie in die stad te monitor. Ons gaan veral op die uitkyk wees na motoriste wat dronk bestuur.”
Minnaar het gesê die Gautengse gesondheidsdepartement het ’n aantal verpleegsters aan die JMPD beskikbaar gestel wat van vandag 18:00 tot môre 06:00 by hul alkoholtoetssentrums in Randburg, Soweto en die middestad sal werk.
“Hulle sal bloedmonsters neem van motoriste wat ons vermoed onder die invloed van drank bestuur. Indien die motoriste se alkoholvlak hoër as die wettige vlak is, sal hulle gearresteer word.”
Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddienste (EMS), het gesê hulle gaan die naweek met die JMPD en die polisie saamwerk om veiligheid oor die hele stad te verseker.
“As ons na vorige jare kyk, is die Johannesburgse middestad en Diepsloot beslis die twee gebiede waarop ons veral moet konsentreer.”
Radebe meen die EMS het meer as genoeg personeel om op alle noodgevalle te reageer.
Die JMPD sal vandag die Joburg-karnaval van die beginpunt in Hillbrow deur Braamfontein tot in Newtown begelei.
Die karnaval begin om 12:00 en eindig omstreeks 15:00.
Minnaar het gesê die JMPD sal ook in Commissionerstraat in die middestad teenwoordig wees wanneer die Chinese vuurwerk vanaand van 18:00 tot 01:00 afgeskiet word. Commissionerstraat sal daarvoor gesluit wees.
“Ek wil inwoners herinner dat hulle vuurwerk vandag net van 23:00 tot 01:00 en môre van 19:00 tot 22:00 mag afskiet.”
Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-metropolisie, het gewaarsku inwoners moet 2012 se koms op ’n verantwoordelike wyse vier, berig Cobus Claassen.
“Mense moet veral veilig voel in die middestad.”
Die Tshwane-metropolisie het gister in Pretoria op handelaars toegeslaan wat vuurwerk onwettig verkoop. Tshwane sal nie vanaand soos vorige jare ’n opskop op Kerkplein hou nie.
Die metropolisie het ’n beroep op inwoners gedoen om vanaand na hul troeteldiere om te sien.
Inwoners kan Tshwane se nooddienste bel by 010177 of 0012 310 6300/6400 of die metropolisie by 0012 3587 095/6.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld