Polisie op spoor van Modimolle-aanvallers
2012-01-12 11:50
Johannesburg – Die soektog duur voort na twee mans wat van ‘n grusame aanval op ‘n vrou van Modimolle (Nylstroom) beskuldig word, het die polisie in Limpopo gesê.
“Ons het inligting. Ons weet waar hulle is. Ondersoekers is op hul spoor,” het brig. Hangwani Mulaudzi Donderdag gesê.
“Hulle is êrens in die republiek [van Suid-Afrika], ons wil nie te veel sê nie,” het hy gesê.
Die twee mans word gesoek vir ‘n aanval wat na bewering deur die sakeman Johan Kotzé georkestreer is.
Kotzé (50) het drie werkers glo met ‘n vuurwapen gedwing om sy vervreemde vrou te verkrag. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy sy stiefseun doodgeskiet het.
Een van die drie werkers – ‘n 42-jarige man – is Woensdagoggend in Makapanstad naby Hammanskraal, noord van Pretoria, aangekeer.
Kotzé is ook Woensdag in hegtenis geneem. Kliek hier om meer te lees oor die voortvlugtige sakeman se inhegtenisneming.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA