Polisie steeds op oppasser se spoor
2012-02-08 13:10
Johannesburg – Die polisie is nog op soek na die kinderoppasser wat ‘n ses maande oue baba na bewering ontvoer het.
“Die ondersoek duur voort,” het lt.kol. Tshisikhawe Ndou Woensdag gesê.
Hy kon nie bevestig of die 21-jarige Zimbabwiese vrou, wat deur The Star as Linette Moyo geïdentifiseer is, nog in die land of in Zimbabwe is nie.
Die baba, Kgosietsile Marobe, is Dinsdagoggend by ‘n crèche in Hillbrow, Johannesburg, gevind nadat ‘n tante ‘n SMS ontvang het dat die baba by die crèche afgelaai is.
Sy ma, Mita, sê dit lyk asof hy ongedeerd is.
“Toe ons by die crèche instap... het ek baie emosioneel geraak, maar ek was baie bly en verlig,” het sy aan The Star gesê.
‘n Vrou het die baba by die crèche afgelaai en aan die personeellede gesê dat sy hom later sal kom haal.
Me. Marobe het Maandagoggend wakker geword en besef dat die oppasser en die baba weg was.
Die polisie kon nie bevestig of die oppasser ‘n losprys van R45 000 geëis het nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA