Polisie op soek na Jhb-skieters
2010-11-19 10:25
Johannesburg – Polisie in Johannesburg was Vrydag nog op soek na die mans wat Donderdagmiddag in ‘n skietery in Marlboro betrokke was.
“Ons is nog op soek na die verdagtes,” het ao. Moses Maphakela gesê.
Hy het gesê dat vyf mans in drie motors in die buurt Marlboro op mekaar begin skiet het. Een man is beseer, waarna die mans van die toneel gevlug het.
“’n Ooggetuie het gesê hy het drie motors gesien, ‘n VW Golf 5, ‘n wit BMW en ‘n Mercedes wat mekaar omstreeks 17:25 na Marlboro gevolg het.”
Die insittendes van die drie motors het op mekaar begin skiet naby die Gautrein-stasie op die hoek van Marlboro en Zinniastraat.
Een man in die BMW is beseer en het uit die motor geval. Die insittendes van die Golf het hom in hul motor gelaai en al drie voertuie het in die rigting van Sandton weggejaag.
Die motief vir die skietery was nog nie bekend nie. Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
“Al wat ons op die toneel gevind het was gebruikte 9mm koeëldoppies en bloedvlekke.”
Maphakela kon teen Vrydagoggend nog nie bevestig of die man wat geskiet is dood of lewendig was nie.
Verdere besonderhede was nog nie beskikbaar nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA