Polisie ontstoke oor 'PigSpotter' op Twitter
2010-09-19 06:25
Johannesburg - Vir iemand wat ’n menigte gekrenkte en ontstoke Gautengse
metropolisiebeamptes op sy spoor het, is Cliff “PigSpotter” verbasend
maklik om op te spoor.
“Natuurlik is dit ’n bietjie kommerwekkend
om ’n paar duisend polisiemanne agter jou aan te hê,” het die
selfaangestelde Robin Hood van Suid-Afrika se paaie aan Rapport gesê
toe hy per e-pos ondervra is.
“Maar ek is seker as hulle my wel vind en my in hegtenis neem, sal nie veel van hul dreigemente kan kom nie.”
Cliff
(sy van en die res van sy identiteit is onbekend, maar hy noem homself
PigSpotter) het ’n paar dae gelede nog stil-stil sy profiel op die
sosiale netwerk Twitter gebruik om mense te waarsku waar die
verkeerspolisie in Gauteng oral snelstrikke en padversperrings stel.
Maar die afgelope week het hy skielik roem behaal.
Sy
bedrywighede het die koerante gehaal, ’n paar duisend bykomende mense
het begin om sy wenke op die internet te volg, en die Johannesburgse
metropolisie het die naweek aangekondig dat hulle klagte van crimen
injuria, naamskending en dwarsboming van die gereg teen hom aanhangig
maak.
Dat hy op sy Twitter-profiel na die verkeerspolisie met
allerlei bynaampies (wat gewoonlik die woord “vark” bevat) verwys, het
nie veel gedoen om hul guns te wen nie.
“Drie klein varkies trek lukraak af op Christiaan de Wetweg naby die Clearwater Mall,” het hy byvoorbeeld Vrydag gewaarsku.
En
’n rukkie later: “Daar is ’n enorme MAMA met ’n blou City Golf wat
graag agter die bosse en mure op Langermanweg, Kensington, wegkruip.”
Volgens van die aanhangers op PigSpotter se Twitter-profiel staan P.I.G vir “polisie in Gauteng”.
Toe
Rapport supt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse
metropolisie, gebel het, het hy nie dik van die lag geklink nie.
“Ons werk aan inligting,” was al wat hy wou sê.
Vroeër
het hy egter aan die media gesê dié beledigings teen die polisie word
in ’n ernstige lig beskou en hulle beoog om die oortreder vas te trek.
PigSpotter self was veel meer gesellig toe hy gekontak is.
Wat dink hy regtig van varke?
“Wel, ek eet hulle graag. Op ’n tyd het een in my huis rondgehardloop, maar hy het te groot geraak. Het lekker spek gemaak.”
Wat
’n mens veral laat kopkrap oor PigSpotter se bedrywighede, is waar hy
al sy inligting bekom. Donderdag het hy byvoorbeeld binne ’n uur
snelstrikke op die N14 naby Krugersdorp, die R21 noord van Johannesburg,
William Nicolrylaan naby Sandton en die Delmas-pad verklap.
Hy hou vol hy kry die inligting van mense wat sy twiets volg.
“Ek sien hoe die polisie wegkruip en elke dag mense onwettig vang deur óf in ’n motor weg te kruip óf agter REGTIGE vet bome.
“Soos
wat my volgelinge vermeerder het, so het meer van hulle gevra dat ek
padversperrings ook dek, want vroue, veral saans, is afgetrek en
geviktimiseer deur mense wat omkoopgeld wou hê. Dié soort korrupsie vind
DAAGLIKS plaas. Pleks daarvan dat hulle iets goeds doen, probeer die
polisie net geld maak uit onskuldige burgers.”
So gewild is hy dat daar reeds nabootsers in Kaapstad en Durban opgeduik het (Pig_SpotterCPT en PigSpotter_KZN onderskeidelik).
Maar
nie een van dié twee kom al naby aan die sowat 14 000 volgelinge wat
die oorspronklike PigSpotter teen die naweek gehad het nie.
Maar is wat PigSpotter doen – om mense van die verkeerspolisie se snelstrikke te waarsku – wettig? Hy dink so.
As
die polisie hom wil vervolg, “moet hulle bewys dat ek spesifieke
padversperrings (se ligging) verklap, dat ek ’n spesifieke misdadiger
bystaan en dat ek hom ’n ompad laat ry het wat hy nie andersins sou ry
nie,” verduidelik hy.
“Ek skryf in die algemeen vir enigeen wat
inligting oor snelstrikke en padversperrings wil hê; ek verskaf nie
inligting aan enige spesifieke misdadiger of organisasie nie.As my
optrede dwarsboming van die gereg is, moet iemand bewys dat ek aktief en
doelbewus wenke aan ’n misdadiger verskaf.”
Volgens PigSpotter
help hy mense om onwettige snelstrikke te vermy, maar wat is die verskil
tussen ’n wettige en ’n onwettige snelstrik?
“Die polisie moet
sigbaar wees. Die strik mag niks verder as 120?m wees van ’n teken wat
die spoedgrens aandui en ’n prentjie van ’n kamera daaronder nie.
“Die strik moet op gelyke grond wees. En die kruisie op die foto moet na die nommerplaat wys.”
Mnr.
Gary Ronald, AA-woordvoer, sê daar is egter ’n grys gebied as dit by
die verklap van tydelike snelstrikke of padversperrings kom.
“As
jy mense waarsku oor padversperrings waar die polisie mense se rybewyse
nagaan of dronkbestuurders aankeer, beïnvloed jy die wetstoepassing.”
- Rapport