Polisie ontplooi vir e-tol-betoging
2012-12-06 08:02
Johannesburg – 'n Sterk polisieteenwoordigheid word in Katlehong in Ekurhuleni, oos van Johannesburg, gehandhaaf voor 'n betoging oor die e-tolstelsel.
Minstens 12 polisievoertuie staan in Masakhanestraat, waar Cosatu se betoging gaan begin.
Betogers het byeengekom in dié straat, maar geen paaie is vir verkeer gesluit nie.
In Braamfontein in Johannesburg het die polisie en media reeds vanaf 06:00 vergader, maar geen betogers het nog hul verskyning gemaak nie.
Vier polisievoertuie is by Cosatu-huis in Jorissenstraat gesien.
Die twee betogings sal op die N1, M2, M1, N3, N12, R24, en R21 plaasvind.
Dumisani Dakile, provinsiale sekretaris van Cosatu in Gauteng, het 'n beroep gedoen op motoriste wat aan die betoging deelneem om hul hoof- en noodligte aan te skakel. Sommige van die motors sal ook baniere hê.
Cosatu het gesê hy het toestemming van die Johannesburg- sowel as die Ekurhuleni-metro ontvang om te betoog. Die vakverbond het egter nie toestemming gekry om in Pretoria te betoog nie.
Die vakverbond het die departement van vervoer, finansies en behuising tot 17:00 Maandag kans gegee om op hul eise te reageer.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA