Polisie ondervra man ná moord op Tyibilika
2011-11-16 09:07
Kaapstad – Die polisie het Dinsdag ’n man ondervra wat gewond is in die beweerde sluipmoordaanval op die oud-Springbok Solly Tyibilika (32) in ’n taverne in Nuwe Kruispad.
Die man, ’n vriend van Tyibilika, is volgens ooggetuies deur tot agt skote in die rug getref. Simon Dan Shumane (25) is verlede maand saam met Tyibilika en Sandile Maqungo (27) in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ’n onwettige vuurwapen.
Maqungo is etlike dae nadat hulle op borgtog vrygelaat is naby sy huis in Kruispad doodgeskiet.
Verwarring het ná Tyibilika se dood ontstaan toe die polisie ’n sluier van geheimhouding oor die ondersoek getrek het en nie wou bevestig of Shumane ook vermoor is nie. ’n Engelstalige dagblad het berig dat al drie in beweerde sluipmoorde vermoor is.
Die Burger het Dinsdag by bure van Shumane en sy prokureur, Oscar Katz, vasgestel dat hy by die Guguletu-polisiekantoor is “waar hy ondervra word”.
Katz het Dinsdagmiddag sy kliënt by die polisiekantoor gaan sien. “Hy is nie in hegtenis geneem in verband met Solly se dood nie.
“Hy word bloot ondervra om verdere lig op die moord(e) te werp. Nie hy of Solly het vroeër, selfs ná Maqungo se dood, aan my genoem dat hulle vir hul lewe vrees nie. Toe ek verlede Woensdag met Solly gepraat het, het hy ontspanne geklink,” het Katz gesê.
Katz wou nie bekend maak wat hy met Shumane, ’n belowende rugby- en krieketspeler wat vroeër lid van die WP Akademie was, bespreek het nie. Hy het egter bevestig dat Maqungo ’n berugte en veroordeelde misdadiger was.
Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat Shumane “steeds lewe en Maqungo die een is wat gesterf het”.
Zanele Tsobsobe en Sindisiwe Mavi, familievriende van Tyibilika, het gesê die familie, bure en vriende is steeds in die duister oor sy dood. “Ons weet Maqungo was ’n berugte misdadiger, maar ons weet nie hoekom Solly met hom bevriend was nie,” het Tsobsobe gesê.
Mavi het gesê: “Maqungo was by bendes betrokke, maar Solly wou nooit daaroor praat nie.”
Intussen het ooggetuies vertel dat Tyibilika deur meer as vyf skote, moontlik agt, in die rug getref is. “Die een het onmiddellik begin skiet, met die ander wat die werk afgehandel het en seker wou maak Solly is dood,” het ’n ooggetuie, wat skaars twee meter van Tyibilika gestaan het, vertel.
Volgens Van Wyk is die ondersoek na Tyibilika se moord “in ’n baie sensitiewe stadium”.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger