Polisie ondersoek tweede moordbende in KZN
2012-09-30 12:46
Johannesburg – Die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek gerugte dat ‘n tweede polisie-moordbende in KwaZulu-Natal aan die werk is, berig die Sunday Times.
Drie lede van die Port Shepstone georganiseerde misdaadeenheid is reeds in hegtenis geneem en aangekla.
Ao. Basil Crouse, ‘n senior beampte van die eenheid, het homself Vrydag in Hibberdene, 100 km suid van Durban, oorgegee.
Hy is aangekla van moord, poging tot moord en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Hy is op R5 000 borgtog vrygelaat.
Sy broer, kapt. Nico Crouse, en ao, Earnest Nkabane – beide lede van die eenheid – is in Augustus saam met lede van die Cato Manor-eenheid in hegtenis geneem op aanklagte van moord en afpersing.
Hulle is ook op borgtog vrygelaat.
Die Opod heropen nou moorddossiere en lêers wat vyf jaar terug dateer na sake waarby die eenheid betrokke was, het die koerant berig.
“Ons versoek ook dat enigiemand met inligting oor enige sake om na ons sal kom,” het Moses Dlamini, woordvoerder van Opod, aan die koerant gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA