Polisie ondersoek klopjag op OB-kantoor
2011-03-03 13:01
Pretoria – Die polisie gaan 'n klopjag wat op die kantoor van die Openbare Beskermer uitgevoer, is ondersoek, het 'n woordvoerder Donderdag gesê.
"Ons veroordeel die klopjag en het dit nie goedgekeur nie," het kol. McIntosh Polela in sy hoedanigheid as polisiewoordvoerder gesê.
Genl. Bheki Cele se kantoor het ook die voorval veroordeel.
Polela het gesê die klopjag is Woensdagaand op die kantoor uitgevoer, dieselfde dag as wat die kabinet die verslag van die OB, adv. Thuli Madonsela, teen Cele bespreek het.
"Ons is bekommerd dat dit dalk gesien kan word as intimidasie van die kantoor van die Openbare Beskermer en ons moet op rekord plaas dat ons die kantoor van die Openbare Beskermer respekteer en ondersteun," het Polela gesê.
Die polisie glo dit was 'n poging om dokumente in die verslag in die hande te kry.
Madonsela het Cele skuldig bevind op aanklagte van onregmatige gedrag en wanbestuur nadat die polisie 'n huurkontrak van R500 miljoen vir die Sanlam Middestad-gebou in Pretoria goedgekeur het.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA