Polisie ondersoek Cele ná DA-klag
2011-08-08 09:07
Kaapstad - Die polisie ondersoek nou sy eie hoof, genl. Bheki Cele.
Dit kom nadat die DA strafregtelike klagte teen vier hooggeplaastes, onder wie Cele, aanhangig gemaak het. Hulle word geïmpliseer in die openbare beskermer (OB) se verslag oor huurooreenkomste vir polisiegeboue.
Kol. Vishnu Naidoo, polisiewoordvoerder, het Sondagmiddag bevestig die klagte teen Cele is ingedien. “Ons ontleed dit tans,” het hy gesê.
Klagte is ook Vrydag teen Gwen Mahlangu-Nkabinde, minister van openbare werke, Roux Shabangu, ’n omstrede sakeman, en Siviwe Dongwana, direkteur-generaal van die departement van openbare werke, by die Claremont-polisiekantoor in Kaapstad ingedien.
Adv. Thuli Madonsela, die OB, het in haar verslag bevind Cele en Mahlangu-Nkabinde het onregmatig opgetree met die sluit van die huurooreenkomste vir polisiegeboue in Durban en Pretoria.
Die OB het bevind albei huurooreenkomste van altesaam R1,7 miljard wat met Shabangu gesluit is, is onwettig en ongeldig.
Pres. Jacob Zuma het Vrydag in Pretoria Madonsela se verslae oor die huurooreenkomste vir polisiegeboue geprys.
Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, het Sondag volgens Sapa gesê Zuma is besig om Madonsela se verslag “stelselmatig te verwerk”.
Zuma sou Vrydag ’n verslag in dié verband aan die speaker van die nasionale vergadering, Max Sisulu, oorhandig.
“Dit bewys hoe ernstig hy is om die verslag van die openbare beskermer te verwerk . . . Dit is omdat korrupsie ’n ernstige probleem in die land is,” het Maharaj bygevoeg.
Zuma sal sy voorlopige reaksie na verwagting Vrydag by die Nasionale Vergadering indien.
Wilmot James en Debbie Schafer, DA-LP’s, het Sondag in ’n verklaring gesê die party is reeds geruime tyd bekommerd oor Zuma se “gebrek aan beslistheid en leierskap” in dié verband.
“Ons vertrou dat die polisie die regte ding sal doen omdat dit lyk of die president onwillig of bloot nie in staat is om dit te doen nie.”
Die DA se klagte teen Cele hou verband daarmee dat hy nagelaat het om te voldoen aan die relevante bepalings van die Wet op die Bestuur van Openbare Fondse sowel as die Wet op die Bestuur van Vaste Staatsbates.
Die klagte teen Mahlangu spruit onder meer daaruit dat sy nagelaat het om haar samewerking aan die OB te gee en voortgegaan het met die huurooreenkoms in Pretoria ondanks ’n onderneming dat sy nie daarmee sal voortgaan totdat die OB se verslag gefinaliseer is nie.
’n Klag is teen Shabangu ingedien omdat hy druk op Dongwana geplaas het om in te stem tot die huurooreenkoms ten spyte van sy eie bedenkinge, terwyl die klag teen Dongwana daaruit spruit dat hy nagelaat het om sy verantwoordelikhede as aanspreeklike amptenaar na te kom.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Die Burger