Polisie ‘nie oor salaris korrup’
2010-12-20 07:27
Beeld
Pretoria - Die meeste van die 126 polisiebeamptes wat in die afgelope drie maande in Gauteng gearresteer is weens hoofsaaklik korrupsie, is mans met die range konstabel en adjudant-offisier.
Só het kol. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, gesê ná die inhegtenisneming van ses Pretoriase speurders wat na bewering betrokke was by rooftogte by twee juwelierswinkels in Johannesburg.
Dié speurders is almal adjudant-offisiere en werk onderskeidelik by die Boschkop-, Erasmia- en Pretoria-Wes-polisiekantoor.
Luidens die Onafhanklike Klagtedirektoraat se 2009-’10-jaarverslag was die meeste polisiebeamptes teen wie hy in dié boekjaar bewerings van misdaad ondersoek het, adjudant-offisiere (27%), konstabels (22%) en kapteins (7%).
Die meeste van die 126 polisiebeamptes wat in Gauteng in hegtenis geneem is, is weens korrupsie gearresteer.
Klagte van roof word ook ondersoek.
Waarom polisiebeamptes by misdaad betrokke raak, is onduidelik, maar dit kan nie wees omdat hulle te min betaal word nie, het Malila gesê.
“Hulle weet wat die salaris vir ’n polisiebeampte is voordat hulle by die polisie aansluit,” het Malila gesê.
“Mense sluit by die polisie aan omdat hulle daar wíl wees. So, die salaris kan nie die rede wees waarom hulle by misdaad betrokke raak nie.”
Oscar Skommere, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu), het gesê sy vakbond dink wel swak betaling is een van die redes hoekom polisiebeamptes misdaad pleeg.
“Weens hul klein salaris kan hulle maklik verlei word. As jy iemand moet gaan toesluit en jy weet by die huis sit jou mense sonder elektrisiteit, sal jy maklik omgekoop word.”
Skommere het gesê daar moet meer opleiding oor misdaadbewustheid in die polisie wees.
Volgens hom kom korrupsie in verskeie vorme voor en polisiebeamptes is baie keer eers bewus dat korrupsie gepleeg is nadat hulle dit gedoen het.
Norman Mampane, woordvoerder van die polisievakbond Popcru, het gesê voornemende polisielede se agtergrond moet beter nagegaan word.
Skommere, Malila en Mampane is dit eens dit is kommerwekkend dat so ’n groot getal polisielede toegesluit is.
Malila het gesê die arrestasies is tog ook verblydend “want dit beteken die organisasie word reggeruk”.
“Sodra ons dié klomp uitgeroei het, sal dié wat oorbly die goeie manne en vroue wees wat nog in hart en siel polisiebeamptes is,” het hy gesê.
Skommere het gesê die arrestasies skaad die polisie se beeld.
- Volg Nuus24 op Twitter.