Polisie moenie jammer wees nie, sê Phiyega
2012-08-20 11:30
Johannesburg – Polisiebeamptes moenie jammer oor die skietery naby die Lonmin-myn in Marikana, Rustenburg, wees nie, het Riah Phiyega, polisiekommissaris, gesê.
“Die veiligheid van die publiek is nie onderhandelbaar nie. Moenie jammer wees oor wat gebeur het nie,” het die polisiehoof volgens die koerant Sowetan gesê.
Phiyega het Sondag by ao. Sello Ronnie Lepaku se begrafnis gepraat. Lepaku is een van die polisiebeamptes wat verlede Maandag gesterf het. Na bewering het die stakende Lonmin-mynwerkers hom doodgemaak.
Die polisiehoof het ‘n beroep op polisiebeamptes gedoen om versigtig te wees en altyd hul koeëlvaste baadjies, skilde en helms te dra.
Die polisie het Donderdag op duisende werkers wat wapens gedra het, begin skiet terwyl hulle vanaf ‘n nabygeleë koppie, waar hulle dae lank bymekaar gekom het, gehardloop het.
Altesaam 34 werkers is doodgeskiet en meer as 70 mense het beserings opgedoen.
Die betogings het vermoedelik te make met mededingendheid tussen die National Union of Mineworkers (Num) en die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) oor erkenningsooreenkomste by die myn. Werkers wou ook meer betaal word.
Lonmin het intussen ‘n ultimatum aan die werkers gestel. Die maatskappy het vir die onwettige stakers gesê hulle sal afgedank word indien hulle nie Maandag by die werk opdaag nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA