Polisie 'meer vasberade as ooit' om skieters vas te trek
2011-10-01 15:57
Johannesburg – Die polisie in die Oos-Kaap sal alles in hul vermoë doen om die moordenaars van konst. Christopher Maqhojana te vind, het hulle Saterdag gesê.
Maqhojana, 32, is Vrydagoggend op 'n grondpad naby Queenstown doodgeskiet, het brig. Miranda Mills gesê.
"Hy het 'n skietwond aan sy bolyf opgedoen."
Maqhojana was ten tye van die voorval in sy eie motor en nie aan diens nie, het sy gesê.
"Die moordenaars het nie sy amptelike vuurwapen en selfoon geneem nie."
Lt.genl. Celiwe Binta, polisiekommissaris van die Oos-Kaap, het haar medelye met sy vriende en familie betuig.
"Ons sal nie terneergedruk word nie, inteendeel, ons is meer vasberade as ooit om sy moordenaars aan die pen te laat ry," het Binta gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA