Polisie kry kamers vol wapens in huis
2011-10-11 07:04
Johannesburg. – “Ek en jy sal ’n oorlog kan wen met al die vuurwapens en ammunisie wat in dié huis is.”
Só het genl. Bheki Cele, nasionale polisiehoof, Maandagaand buite ’n huis in Valhalla, Centurion, gesê waar die Tshwane-metropolisie en die polisie op minstens ses kamers vol vuurwapens, ammunisie, buskruit, kommunikasietoerusting en polisie-, weermag- en lugmaguniforms afgekom het.
Teen druktyd is daar al 24 wapens getel, maar dit was nog nie duidelik wat nog in dié huis in Vikingstraat versteek was nie.
Cele het gesê die ammunisie was te veel om te tel.
“Ons sal nie weet wat die motief vir al die vuurwapens is voordat ons nie met die eienaar gepraat en hy vir ons ’n paar antwoorde gegee het nie.”
Die huurder van die huis, wat nie haar naam genoem wil hê nie, het gisteraand gesê sy het verlede Vrydag ingetrek.
Sy huur net ’n gedeelte van die huis wat aan ’n man behoort wat in Londen bly.
Lt.kol. Tshisikhawe Ndou, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê al die bewerings teen die eienaar sal deel van die ondersoek uitmaak. Hy het gesê daar is onder meer ammunisie vir ’n R1- en ’n R5-aanvalsgeweer, ’n .38-rowolwer en 9mm-pistool en verskillende vuurwapens, soos ’n .303 jaggeweer en verskeie pistole gevind.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld