Polisie kry 106 nuwe voertuie teen misdaad
2010-09-20 07:45
Die stryd teen Gauteng se misdadigers het Vrydag ’n hupstoot gekry toe polisiebeamptes 106 nuwe voertuie gekry het.
Lt.genl. Mzwandile Petros, nuwe polisiehoof in die provinsie, het die motors, waaronder 12 nuwe VW Golf 6 GTI’s vir die blitspatrollie, by die Gilloolys-wisselaar aan beamptes oorhandig.
Dié 12 motors gaan saam met die ander voertuie wat reeds op die hoofweë is as ’n snelreaksie-eenheid reageer.
Volgens Petros moet elke polisiëringsgebied in sektore opgedeel word en elke sektor moet twee polisievoertuie hê wat dit patrolleer.
Dié voertuie se blou ligte sal aan wees.
Die algehele waarde van die voertuie beloop sowat R12 miljoen.
“Ons wil misdaad met sigbare polisiëring beveg. Die vinnige motors (die Golf GTI’s) gaan na die blitspatrollie wat op vinnige reaksie fokus. Die motors behoort aan gemeenskapslede en moet vir hulle gebruik word.”
Volgens Petros is die volgende stap om meer as 1 000 polisievoertuie op paaie in die provinsie te hê.
Misdaad teen vroue en kinders is ook weer ’n prioriteit vir die polisie. Speurders verbonde aan die eenheid wat dit ondersoek, het ook van die nuwe motors gekry.
Die motors, wat gebruik gaan word om in die verskeie sektore te patrolleer, kom elk met ’n selfoon waarvan die nommer op die kant van die motors sal staan.
Adv. Mongezi Tshongweni, hoof van die Gautengse departement van gemeenskapsveiligheid, het gesê die selfone sal help dat polisiebeamptes vinniger op misdade kan reageer.
“Ons weet daar was in die verlede probleme met die 10111-sentrum, maar met die selfone en nommer op die motors kan gemeenskapslede die beamptes vinniger kontak en hulle (die polisie) kan dan vinniger reageer,” het hy gesê.