Polisie-inspekteur meng glo in by ondersoek
2011-07-14 20:59
Johannesburg – ‘n Metropolisie-inspekteur van Tshwane is Donderdag in hegtenis geneem nadat hy by ‘n “skoonmaak”-operasie teen misdaad ingemeng het, het die stad gesê.
Console Tleane, woordvoerder van die Tshwane-metropool, het gesê die operasie, wat Woensdag begin het, het die beslaglegging op motors en taxi’s wat onwettig geparkeer was, ingesluit.
Die polisiebeampte het glo na ‘n skut in Vermeulenstraat, waar die motors gehou is, gegaan en aan die eienaars gesê dit is onwettig om beslag op taxi’s te lê.
“Hy het aan hulle gesê hulle moet al die taxi’s uitlaat waarop daar tydens die operasie beslag gelê is,” het Tleane gesê.
Tot 50 beamptes is om die middaguur teruggeroep sodat hulle die voorval kon ondersoek, het hy gesê.
Die inspekteur is in hegtenis geneem en van die inmenging by polisie-pligte aangekla.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA