Polisie 'in beheer' in Sterkspruit
2013-02-13 09:21
Johannesburg – Altesaam 69 mense wat in Sterkspruit vir openbare geweld in hegtenis geneem is, sal na verwagting Woensdag in die hof verskyn, het die Oos-Kaapse polisie gesê.
Brig. Miranda Mills het gesê 37 mense is Maandag in hegtenis geneem gedurende 'n protesoptog waartydens paaie afgesper is en klippe na verbygaande motors gegooi is.
Nog 32 mense is Dinsdag in hegtenis geneem.
Die situasie is tans onder beheer en verskeie polisielede is in die gebied ontplooi om die vrede te bewaar.
"Hierdie lede doen patrollies en word strategies geposisioneer om hulle in staat te stel om vinnig te reageer op enige geweld.
"Ons Grondwet maak voorsiening vir vreedsame betogings en ons doen 'n beroep op die gemeenskap om die wet te gehoorsaam, of hulle loop die risiko om in hegtenis geneem te word."
Die betogings het begin nadat 'n beplande vergadering van Richard Baloyi, minister van samewerkende regering, uitgestel is.
Die inwoners meen die Senqu-munisipaliteit, waarvan hulle deel is, verwaarloos die dorp, en eis hulle eie munisipaliteit.
Winkels is ook glo geplunder en 'n vragmotor is aan die brand gesteek.
– Volg Nuus24 op Twitter.