Polisie hou steeds wakende oog oor protes
2012-12-06 18:00
Johannesburg – 'n Protesaksie deur Cosatu teen die beplande e-tolstelsel het Donderdagmiddag groot verkeersontwrigting veroorsaak terwyl voertuie op van die provinsie se hoofweë teen 'n slakkepas voortbeweeg het.
Motors het op die R24 naby die Barbarastraat-afrit in Ekurhuleni, oos van Johannesburg, by die motorstoet aangesluit. 'n Vragmotor met harde musiek was deel van die stoet.
Werkers langs die pad, sowel as dié in winkels en kantore, het ophou werk om na die betogers te kyk, wat in sowat 50 motors oor 'n kilometer gestrek het. Daar was 'n sterk polisieteenwoordigheid.
Die bestuurders het naby die OR Tambo Internasionale Lughawe stilgehou, hul motors se toeters gedruk, of uitgeklim en in die pad gedans. Hulle is deur die polisie aangesê om weer in hul motors te klim.
Nog 'n konvooi op die N3 na Pretoria het by die Buccleuch-wisselaar verbygery.
Woordvoerders van Cosatu het verlede week gesê betogers sal die tolhekke afbreek, maar hulle het intussen gesê dit sal nie gebeur nie.
"Hulle moet hierdie simpel goed afbreek. Ons betaal reeds vir hierdie paaie... en nou wil hulle ons dubbel laat betaal," het een van die vragmotorbestuurders gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA