Polisie hou e-tolprotes fyn dop
2012-12-06 09:10
Johannesburg – Geen fietse mag aan die betoging teen die omstrede e-tolstelsel deelneem nie, het die stad se metropolisie gesê.
“Ja, vragmotors word toegelaat want dis ‘n voertuig, maar geen fietse word toegelaat nie,” het supt. Wayne Minnaar gesê.
Cosatu het verlede week ‘n beroep op betogers gedoen om met hul fietse deel te neem.
“... Ons gaan op die hoofweë ‘n optog hou. Kamerade, bring jul fietse; ons het trekkers georganiseer,” het Dumisani Dakile, sekretaris van die vakverbond in die provinsie, destyds gesê.
“Gaan na die naaste e-tolhek en parkeer daardie motor die hele dag daar... Ons wil hê die regering moet sien waar die mag is,” het hy gesê.
Minnaar het egter gewaarsku dat voertuie wat nie aan die betoging deelneem nie, weggesleep sal word.
“Enige voertuig wat nie deel van die motorstoet vorm nie... sal weggesleep word...”
Minnaar sê betogers mag hul voertuie gebruik om ‘n “motorstoet te vorm.”
Die betogings en Ekurhuleni en Johannesburg sal op sommige van Johannesburg se besigste hoofweë – die N1, M2, M1, N3, N12, R24, en die R21 – plaasvind. Sowat 100 motors word op elke roete verwag.
Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA