Polisie 'het stakers aangerand'
2011-07-06 22:12
Pretoria – Die metaalwerkersunie Numsa het Woensdag gesê die polisie het stakers in Bellville, Kaapstad, en Germiston, Johannesburg, geïntimideer, geteister en in hegtenis geneem.
Die polisie het ook glo op die stakers geskiet.
Die unie se woordvoerder, Castro Ngobese, het dié beweerde optrede veroordeel tydens Donderdag se betogings vir hoër salarisse.
Die polisie was nie onmiddellik vir kommentaar beskikbaar nie.
Numsa glo mediaberigte van intimidasie en geweld deur stakers is ‘n poging van “sommige elemente” om die stakings te saboteer.
“Numsa is nie ‘n vakbond van skurke nie. Ons het gedissiplineerde en georganiseerde lede,” het Ngobese gesê.
Verskeie vakbonde, wat ongeveer 170 000 werkers verteenwoordig, het Maandag ‘n landwye staking van stapel gestuur om vir beter salarisse te vra.
Numsa-lede wil ‘n verhoging van tussen 10 en 13 persent hê. Werkgewers bied sewe persent aan.
Die vakbond het Woensdag gesê geen onderhandelinge het nog tussen die stakers en hul werkgewers plaasgevind nie.
- Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA