Polisie help glo om te roof
2012-10-24 09:13
Johannesburg – 'n Regsadviseur is by sy huis in Blue Hills, Midrand, beroof – klaarblyklik met die hulp van die polisie, het The Star Woensdag berig.
Raymondt Dicks was Saterdag by sy huis saam met sy vriend en sy seun toe ses gewapende mans die eiendom binnegestorm het en hulle vasgebind het.
Dicks is 'n regsadviseur vir die groep NewERA (New Economic Rights Alliance), wat 'n hofsaak teen vier groot banke in die land, insluitend die Reserwebank, aanhangig gemaak het. Hy verteenwoordig ook die skrywer Michael Tellinger, wat Standard Bank dagvaar vir bedrog.
Beeldmateriaal op 'n kringtelevisiestelsel toon volgens die koerant glo hoe drie polisiemotors, twee bussies en 'n Ford Escort heen en weer ry op die 600 m lange pad waar die roof plaasgevind het.
"Hulle het ingeloop sonder enige skaamte. Dit was baie goed beplan. Wat ek gedurende die rooftog deurgemaak het was erg genoeg, maar toe ek ná die tyd na die beeldmateriaal kyk, was ek werklik geskok," het Dicks gesê.
Hy sê die beeldmateriaal wys hoe polisiemotors die pad versper terwyl die rowers sy eiendom betree.
The Star het berig dat Dicks en sy seun gedwing is om hulle bankkaarte en PIN-nommers te oorhandig. Geld is uit albei se rekenings onttrek. 'n Televisie, luidsprekers, 'n klankversterker, rekenaar en selfone is ook geneem.
Dicks beweer gesteelde items is ook in die polisiemotors gelaai.
Matome Tlamela, 'n polisiewoordvoerder, het bevestig dat die polisie 'n saak van gewapende roof ondersoek. Sy het gesê die beeldmateriaal wys nie duidelik dat die motors wel polisiemotors is nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA