Polisie by damme, riviere in Gauteng ontplooi
2010-12-28 10:41
Beeld
Damme en riviere in Gauteng sal vir die volgende week permanent gepolisieer word.
Kol. Neville Malila, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê dié week is piektyd by wateroorde.
Volgens Beeld se inligting is daar verlede week ’n beroep op lede van die watervleuels gedoen om aan hul ander dienste te onttrek en tot 3 Januarie permanent by wateroorde diens te doen.
Dit het gebeur nadat die polisie vroeër vandeesmaand gesê het daar sal nie dié feestyd permanente lede van die polisie se watervleuels by damme en riviere wees nie omdat daar ander operasionele prioriteite in die provinsie is.
Polisiëring sou gedoen word soos en wanneer dit benodig word.
In die verlede was daar permanent polisielede om veral vakansiegangers wat drank misbruik van water af weg te hou. By sommige damme en riviere het polisielede selfs oorgeslaap.
Malila het gesê wat dit moeilik maak is dat die watervleuel nie ’n eenheid op sy eie is nie en daarom nie polisielede se primêre funksie is nie.
Lede moet van ander eenhede en polisiekantore onttrek word om permanent diens by damme en riviere te doen. ’n Lid van ’n watervleuel in Gauteng het gesê dit help hulle baie meer om permanent by die damme en riviere te wees as om net vir ’n verdrinking uitgeroep te word.
“Wanneer ons permanent by die damme en riviere is, sien die mense ons doen polisiëring,” het hy gesê.
“Deur permanent by die damme te wees, voorkom ons eintlik verdrinking en red mense te lewens omdat ons betyds daar sal wees wanneer hulp benodig word.”
Ná die piektyd, het Malila gesê, sal polisiëring weer soos en wanneer dit benodig word by damme en riviere in die provinsie gedoen word.