Polisie gryp pa, los kind alleen by kar
2011-09-20 09:12
Pretoria – Die polisie het ’n 11-jarige seun glo aan sy eie genade oorgelaat nadat hulle sy pa die naweek by Loftus Versfeld in Pretoria gearresteer het omdat dié in die openbaar alkohol gedrink het.
Pieter Lues (41) van Pretoria-Noord en vyf van sy familielede en vriende is Saterdag net voor 17:00 voor die wedstryd tussen die Blou Bulle en die WP gearresteer.
Lede van die Sunnyside-polisiekantoor het volgens Lues geweier dat hy reëlings tref sodat sy seun Dylan by die huis kan kom.
“Hulle het vir my gesê hy moet maar by die motor wag. Ek wou net hê die polisie moes hom ook saam na die polisiekantoor toe vat dat iemand hom kan kom haal,” het Lues gesê.
Dylan het aan Beeld gesê hy was kwaad omdat hulle sy pa gevat het.
“Ek het geskrik, want dis my pa en toe is hy net weg en ek sit alleen by die kar.”
Lues het gesê hy het polisielede by die Sunnyside-selle herhaaldelik gevra dat iemand gaan kyk waar sy kind is, maar twee polisielede het eers ná 18:00 gesê hulle sal gaan.
Nadat die polisielede Dylan gaan soek het, kon Lues sy vrou, Diane, in die hande kry sodat Dylan opgelaai kon word.
“Hulle het eers ná 22:00 teruggekom en vir my gesê hulle kon my kind nie kry nie,” het Lues gesê.
Vriende van die Lues-gesin het Dylan ná 20:00 gekry waar hy by die wiel van die motor gesit het.
“Ek het gehuil, want ek het nie geweet wat aangaan nie,” het Dylan gesê.
Lues en die res van die mense wat saam met hom gearresteer is, is eers tussen 02:00 en 03:00 vrygelaat nadat hulle skuldbekentenisboetes van R150 elk betaal het.
Volgens hulle is almal se name verkeerd op die boetestrokies gespel.
Lues het gesê hy verstaan die wet sê ’n mens mag nie in die openbaar drink nie, maar bygevoeg: “Dis al jare lank ’n tradisie by Loftus om voor die tyd te braai en ’n bier te drink. Ek is nie ’n onverantwoordelike pa nie, ek was dan nie eens dronk nie. Ek het twee slukkies van die bier gehad op pad na die stadion toe.
“As iets met my kind gebeur het omdat die polisie nie wou help nie, sou jy k*k gesien het,” het Lues gesê.
Lt.kol. Tshisikhawe Ndou, Gautengse polisiewoordvoerder, het gesê die staande reël vir die polisie as daar ’n minderjarige is, is om ’n familielid van die toneel af te kontak om die kind te kom haal.
“As dit nie gedoen kan word nie, sal die minderjarige na die polisiekantoor gevat word waar ander reëlings getref sal word.
“Die familie moet ’n klag by die polisie gaan indien en dit sal dan ondersoek word,” het Ndou gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld