Polisie glo op voortvlugtige Kotzé se spoor
2012-01-09 16:04
Johannesburg – Die soektog na die voortvlugtige Johan Kotzé (50) het Maandag voortgegaan.
Kotzé word deur die polisie gesoek nadat hy drie mans gedwing het om sy vervreemde vrou te verkrag en hy sy stiefseun doodgeskiet het.
“Ons het ons soektog by die grense opgeskerp deur die Valke en die misdaadintelligensie-eenheid in te sluit,” het brig. Hangwani Mulaudzi van die Limpopo-polisie gesê.
“Ons is nou op die man se hakke, maar ek kan nie verdere inligting gee nie, aangesien dit die ondersoek kan belemmer.”
Die 50-jarige Kotzé het glo drie mans, wat sy werkers was, verlede Dinsdag gedwing om sy vervreemde vrou by sy huis in Modimolle te verkrag en aan te rand.
Volgens nuusberigte en polisieverslae het Kotzé ook sy 19-jarige stiefseun na die huis gelok en hom met sy aankoms doodgeskiet.
The Star het Maandag berig dat Interpol, die internasionale polisie-organisasie, ook gevra is om te help met die soektog na Kotzé.
– Volg Nuus24 op Twitter
- SAPA