Polisie fnuik kapers se planne
2010-07-15 14:11
Durban – Twee verdagtes is Donderdag in hegtenis geneem nadat hulle glo ‘n motor gekaap het buite ‘n pensioenbetaalpunt in uMsunduzi, het die polisie in KwaZulu-Natal gesê.
“Met die polisie se aankoms op die toneel het die sekuriteitswagte hulle in kennis gestel dat vier verdagtes ‘n Ford Ranger LDV gekaap het buite die betaalpunt,” het kol. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, gesê.
“Die sekuriteitswagte het oorspronklik gedink die verdagtes probeer die betaalpunt beroof en het skote in die lug afgevuur.”
Kort daarna het die verdagtes met die gekaapte motor op die vlug geslaan met die polisie kort op hulle hakke.
“Die mans het later die motor agtergelaat en in die veld ingehardloop.”
Twee van die verdagtes het in ‘n taxi geklim. Die polisie het die taxi gestop en die mans in hegtenis geneem. Hulle het ‘n 9mm-pistool in hul besit gehad.
Hulle staar nou aanklagte van motorkaping en die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie in die gesig.
Die ander twee verdagtes is steeds soek.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA