Polisie brei soektog na voortvlugtige skieter uit
2012-01-06 07:32
Polokwane – Die jong man wat deur sy stiefpa in Modimolle (Nylstroom) doodgeskiet is, het herhaaldelik om sy lewe gepleit.
“Oom, moet my asseblief nie skiet nie,” het Conrad Bonnette (19) Dinsdagmiddag aan Johan Kotze (50), sy stiefpa, gesê.
Só het Rex Bonnette, Conrad se pa, Donderdag aan Volksblad vertel.
Die vrou wat Kotze glo deur drie tuinwerkers in die huis in Kerkstraat laat verkrag het, het aan Bonnette vertel hoe sy gehoor het hoe Conrad geskiet word.
Kotze het Conrad met ’n .22-geweer doodgeskiet nadat hy hom vroeër die dag gebel en gesê het hy moet na die huis gaan omdat hy “iets met hom wil bespreek”.
’n Skoot het geklap nadat Conrad gesmeek het dat Kotze hom nie moet skiet nie.
“Toe het Conrad weer gesê “asseblief oom, moenie...” het sy pa Donderdag gesê.
Daarna het die vrou ’n tweede skoot gehoor.
“’n Derde skoot is ook afgetrek. En toe was alles stil...” het Bonnette gesê. Die vrou was aan ’n bed met kabelbinders vasgebind in ’n slaapkamer langs die een waar Conrad geskiet is. Daar was ’n wit pleister oor haar mond geplak.
“Kotze het glo die drie tuinwerkers met die geweer gedwing om die vrou te verkrag. Hy het gesê hy sal hulle doodskiet as hulle dit nie doen nie,” het Bonnette gesê.
Bonnette, wat in Bela-Bela (Warmbad) woon, moes sy seun Woensdag by die staatslykshuis gaan uitken. “Hy het ’n skoot in sy bors gehad en een skoot agter in sy kop.”
Conrad was ’n eerstejaarstudent in inligtingstegnologie aan die Universiteit van Pretoria. Hy was in 2010 een van Limpopo se topmatrieks en het sewe onderskeidings behaal.
Intussen is die reuse-soektog na Kotze landwyd uitgebrei en verskerp. Hy het in sy wit Toyota Fortuner met die registrasienommer DCS 392 FS gevlug.
Brig. Hangwani Mulaudzi, kommunikasiehoof van die polisie in Limpopo, het gesê Kotze is vermoedelik steeds gewapen.
Volksblad verneem Kotze het drie paspoorte. Hy het glo familie in Namibië. Kotze is na bewering in die Kimberley-gebied in die Noord-Kaap opgemerk. “Ons het al die grensposte van hom laat weet, hy sal nie wegkom nie,” het Mulaudzi gesê.
Die vrou wat glo deur die drie tuinwerkers om die beurt verkrag is, is Donderdag in ’n hospitaal in Pretoria opgeneem. Sy is Donderdagmiddag geopereer.
“Sy kan nie eens behoorlik loop nie. Hy het tot van haar tone gebreek,” het ’n vriend gesê. Kotze het glo ook dele van die vrou se borste afgesny. Hy het haar glo ook met gereedskap gesodomiseer.
“Sy het nie eens skoene aangehad toe die polisie haar uit die huis gevat het nie. Die vrou is gebroke en sy lyk verskriklik sleg,” het die vriend gesê. Sy gebruik ook anti-retrovirale middels. Die vrou leef glo in vrees dat Kotze haar sal opspoor en doodmaak.
Bonnette het gesê hy is dankbaar dat Conrad se suster, Angelique (16), nie saam met hom na die moordhuis toe is nie. “Kotze het gesê hy sou dieselfde met haar gedoen het,” het Bonnette gesê.
Die drie mans wat die vrou glo verkrag het, het te voet gevlug. Hulle is steeds op vrye voet. Kotze het ’n brief by die moordhuis gelos. Die inhoud is nie bekend nie. Enigiemand met inligting oor waar die drie mans en Kotze kan wees, kan kol. Mabisela Mohale by 082-565-8606 bel.
Conrad word Vrydag 13 Januarie om 11:00 uit die Hervormde kerk op Bela-Bela (Warmbad) begrawe.
Volg Nuus24 op Twitter
- Volksblad