Polisie brand los op plakkers
2009-10-28 14:19
Johannesburg - Die Johannesburgse metropolisie het rubberkoeëls op inwoners van Eldoradopark gevuur nadat hulle oproerig geraak het oor die sloping van hul plakkershutte.
Insp. Edna Mamonyane het gesê die inwoners het die metropolisie met klippe bestook toe hulle die plakkershutte begin sloop.
Die inwoners het ook die paaie met brandende bande versper uit protes teen dié sloping.
Minstens 200 plakkershutte is Dinsdag en Woensdag gesloop.
"Ons moes in die gebied gaan en met mense wat dié grond onwettig besit, afreken. Hulle het strukture op oop grond gebou," het Mamonyane gesê.
Die metropolisie het die betogers uiteengejaag, maar niemand is in hegtenis geneem nie.
Geen beserings is aangemeld nie.
– Sapa