Polisie bly in poste ná sterfte op Ficksburg
2011-04-17 09:00
Johannesburg - Suid-Afrikaners het landwyd met woede, skok en afgryse gereageer op die dood van Andries Tatane die afgelope week tydens protesoptrede teen swak dienslewering in die Vrystaatse dorp Ficksburg.
Maar genl. Bheki Cele, polisiehoof, het Saterdag die besluit verdedig om nié dadelik teen die sowat 14 polisiebeamptes wat vermoedelik betrokke was, op te tree nie.
“Dit was ’n nare gebeurtenis wat nie goed afgeloop het nie,” het Cele Saterdag aan eNews gesê.
Volgens hom moet ’n deeglike ondersoek wys wat gebeur het en dan eers sal die “nodige tugstappe” gedoen word.
Tatane het Woensdag naby die Setsoto-munisipaliteit gesterf toe hy vermoedelik deur ’n rubberkoeël getref en deur die polisie aangerand is.
Die SAUK het dieselfde aand beeldmateriaal van die voorval uitgesaai en die gebeure word wyd veroordeel.
“Wanneer polisiebeamptes menseregte skend en mense sterf vir hul reg op basiese dienste, moet die gevaarligte sekerlik begin flikker dat ons afstuur op ’n mislukte staat,” lui ’n IVP-verklaring.
“Dit lyk of polisiehardhandigheid nou die norm geword het.”
In sy verklaring het die Law Society of SA (LSSA) gesê die geweld wat tot die dood van Tatane gelei het, was “skokkend, ongeregverdig en buite verhouding”.
Tatane, so lui die verklaring, het geen bedreiging vir die polisie ingehou nie.
Die onafhanklike klagtedirektoraat ondersoek die voorval.
Volgens Mathabo Baatjies, ’n ooggetuie, het die polisie Tatane aangeval toe hy gevra het dat die polisie nie waterkanonne gebruik om die betogers te beheer nie omdat sommige betogers bejaard is.
“Hy (Tatane) het met die polisie probeer redeneer, maar hulle het hom aangeval, al was sy hande in die lug om te wys hy baklei nie.
“Hulle het hom begin slaan en hy het sy T-hemp uitgetrek en homself probeer verdedig. Dit het nie gehelp nie en toe word hy geskiet, maar niemand het die skoot hoor afgaan nie. Iemand het wel gesê: ‘Skiet hom’,” het Baatjies gesê.
Die familie van Tatane, pa van twee jong seuns, Tshepang (7) en Molefi (4), meen hy is doelbewus deur die polisie vermoor.
Tatane het in 2008 van die ANC na Cope oorgeloop, maar het hom onlangs aangesluit by die onafhanklike Meqheleng Concerned Citizens, wat hom beywer vir beter dienslewering.
“Ek het hom voortdurend gewaarsku om uit die politiek te bly, dat dit eendag tot moeilikheid sou lei,” het sy vrou, Malehlohonolo, gesê.
Sy sou vir hom ’n spesiale aandete van hoender en rys berei, het sy belowe toe hy Woensdagoggend die huis verlaat het om die protesoptog te lei.
“Ek wil hê die polisie wat vir sy dood verantwoordelik is, moet betaal vir wat hulle gedoen het. Hulle moet hierheen (die Tatane-tuiste) kom en kom sien wat hulle ons twee kinders aangedoen het.
“Hy was hul voorsiener en nou het hulle niemand om na op te kyk nie. Hy was hul onderwyser en selfs ons vierjarige het nou al leer Engels praat.”
Tatane was baie betrokke by sy gemeenskap en het leerlinge en mense gehelp met hul studies.
Sy dood het die woede in die gemeenskap laat ontvlam en sy leerlinge het die strate ingevaar, die biblioteek en die gebou van binnelandse sake afgebrand en die ingange na hul township versper.
***
Rubberkoeëls het Mmatankiso Motaung in die been getref toe sy die deur na haar ma se huis probeer toedruk het.
Sy en haar ma was nog aan die gesels in die skadu voor hul huis toe ’n groep jeugdiges van Meqheleng versperrings in die straat begin oprig het. Hulle het in die huis gegaan om moeilikheid te vermy, maar moes later die deur weens die verstikkende traangas oopmaak.
“Ek kon nie asemhaal nie. Dit was verskriklik. Mense het buite rondgehardloop en die polisie het geskiet,” sê Malethwele Mathaba, Motaung se ma.
Toe Motaung weer die deur probeer toedruk, het sy gevoel iets tref haar linkerbeen.
Dis ’n klip, het sy gedink. Maar toe sy afkyk, sien sy die bloed. Pyn het deur haar been geskiet.
“Dit was verskriklik om so na my eie bloed te moes kyk. Dit was asof iemand ’n kraan oopgedraai het. Daar was oral bloed,” sê sy.
Motaung het byna ’n uur bloeiend in die huis gelê voordat ’n groep jeugdiges haar uitgedra en in ’n ambulans in die straat gelaai het.
Sy is die nag in die Phuthulohang-hospitaal opgeneem waar die rubberkoeël uit haar kuit verwyder is.
Sy is Vrydag ontslaan.
***
Die township Meqheleng lê aan die wesoewer van die Caledonrivier, Suid-Afrika se grens met Lesotho.
Staan jy voor die huis van wyle Andries Tatane, kan jy jou verbeel jy kan aan die Lesotho-dorp Maputsoe aan die oorkant raak.
In Meqheleng, veral in die ou deel Masaleng waar Tatane se huis staan, is die strate ongeteer, nou en vol slaggate.
Sommige strate is niks meer as riviere van vullis nie, met onverwerkte rioolvuil wat uit gebarste pype vloei. Hulle kan nie onthou wanneer laas instandhoudingswerk aan die pype gedoen is nie, sê die inwoners.
Van sportgeriewe is hier min sprake. Die enkele verwaarloosde stadion is aan die genade oorgelaat.
Die tennisbaan is nou die plek waar jeugdiges jou voertuig vir jou sal was. In die township is drie klinieke, drie hoërskole, vyf laerskole en duisende werklose mense.
Ficksburg is tien minute se stap van die township, maar bied nie veel werkgeleenthede nie.
Al waarop die dorp hom kan roem, is die jaarlikse kersiefees.
Ook die dorp self ruik na vergetelheid. Die strate lyk tam, die teer erg verweer.
En die toestroming van mense, wettig en onwettig, uit Lesotho, vererger die frustrasie van die plaaslike inwoners.
In hul memorandum die afgelope week aan die Setsoto-munisipaliteit het die inwoners van Meqheleng dan ook gevra dat die patrollies langs die Caledonrivier opgeskerp word om die instroming van “misdadigers” uit Lesotho te stop.
En die afgelope week is die township in ’n oorlogsone omskep, met jeugdiges wat die polisie met hul rubberkoeëls en traangas trotseer ná die dood van hul held Tatane.
Hul township is nou nóg armer nadat hulle die geboue van die departement van binnelandse sake en die biblioteek afgebrand het.
Teen Saterdag was die strate redelik stil. Die polisie het in Nyalas gepatrolleer. Maar nog ’n vlaag geweld kan volg voor Tatane se begrafnis volgende naweek, het van die jeugdiges gewaarsku.
- Rapport