Polisie bevestig nuwe ondersoek na Malema
2012-01-09 11:02
Kaapstad – Die polisie in Limpopo het bevestig dat hulle bewerings ondersoek dat Julius Malema grond in Polokwane onregmatig bekom het, het RSG berig.
Hangwani Mulaudzi, ‘n polisiewoordvoerder, sê die polisie in Polokwane en die handelsmisdaad-eenheid ondersoek die saak teen die geskorste leier van die ANC-jeugliga.
Matane Mphahlele, ’n sakeman en destydse vriend van Malema, beskuldig Malema daarvan dat hy ’n waardevolle stuk grond wat aan hom behoort het in Sterpark, Polokwane, gesteel het.
Mphahlele het klagtes teen Malema, die prokureur Maboku Mangena, Clifford Motsepe (hoof van Limpopo se departement van behuising) en senior munisipale amptenare ingedien.
Volgens Mphahlele het Malema in 2007 die stuk grond onwettig in sy naam laat oordra en dit die volgende maand vir meer as drie keer die prys verkoop, het die radiostasie berig.
Volg Nuus24 op Twitter