Polisie: Weermag nie ontplooi oor xeno-vrese
2010-07-08 10:34
Johannesburg – Die polisie het Donderdag ontken dat die weermag na die Ramaphosa informele nedersetting in Johannesburg gestuur is uit vrees vir xenofobiese aanvalle wat dalk mag uitbreek.
“Dit was normale misdaadvoorkomingspatrollies. Daar is geen vrees nie,” het ao. Andre de Jager gesê.
Volgens hom het die polisie en die Suid-Afrikaanse Weermagunie (Sanwu) Woensdag ‘n gesamentlike misdaadvoorkomingsoperasie gehad.
Times het Donderdagoggend berig die weermag is sigbaar in die informele nedersetting uit vrees vir xenofobiese aanvalle, maar volgens De Jager was soldate nie Donderdag in die omgewing ontplooi nie.
Xenofobiese aanvalle het twee jaar gelede in die Ramaphosa informele nedersetting naby Reiger Park uitgebreek.
In 2008 is 62 mense dood en 150 000 haweloos gelaat nadat die aanvalle in Gauteng begin het.
Immigrante het reeds begin om die land te verlaat uit vrees vir xenofobiese aanvalle wat dalk na die Wêreldbeker-sokkertoernooi mag uitbreek.
- Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA